Wat is die slegste wat kan gebeur? Die tipe fiasko met ‘n tweedehandse motor wat dikwels op ‘n verbruikersprokureur se lessenaar beland, is soos volg: jy koop jou droomkar tweedehands by ’n handelaar. Binne die eerste paar weke begin die probleme- jy vat die kar terug en die handelaar herstel dit. Binne nog ‘n paar weke is daar iets anders fout. Nadat dit ‘n paar keer herstel is, gaan staan die motor met ernstige enjinskade. Teen hierdie tyd is dit meer as ses maande nadat jy gekoop het, en jy kan die herstelwerk nie bekostig nie. As die motor gefinansier is, betaal jy elke maand af aan ‘n voertuig wat nie bestuur kan word nie, sowel as huurmotorkostes.
As jy op daardie stadium ons firma sou kontak, sou ons ‘n deskundige motorwerktuigkundige aanstel om die motor te inspekteer. Dis waarskynlik dat hy sou bevind die motor was in ‘n ernstige ongeluk en is as ‘n wrak aan die handelaar verkoop. Die handelaar het dit gou-gou en goedkoop laat herstel en aan jou verkoop sonder om ‘n woord te rep van die ongeluk. Boonop is die laatste groot diens ook oorgeslaan.
Vermy so om ‘n probleemkar te koop
- Koop van ‘n handelaar eerder as ‘n individu sodat jy dit kan terugvat as die motor defektief is.
- Selfs as jy kan bekostig om kontant te koop, kry motorfinansiering sodat jy ook die opsie het om die motor aan die finansier terug te neem as probleme met die motor binne die eerste ses maande opduik. Betaal dan die balans in maand 7 as jy dit kan bekostig.
- Toetsbestuur die motor deeglik in verkeer en op die hoofweg met die radio af vir 30 minute en kyk uit vir ratelgeluide, geskud of rook. Toets dat alles aan die motor werk.
- Laat ‘n omvattende Dekra-toets doen op eie onkoste. Vra die Dekra tegnikus of hy gemaklik sou voel as sy seun/dogter die motor sou koop.
- Moenie ‘n motor sonder ‘n volledige diensgeskiedenis koop nie. As jy dink die boekie is dalk vervals, bel die hoofkantoor van die betrokke vervaardiger en gee die motor se VIN-nommer- hulle sal kan bevestig watter dienste gedoen is, en kan soms bevestig of daar herstelwerk gedoen is na ‘n groot ongeluk.
- Doen jou navorsing en betaal ‘n gepaste prys vir wat jy koop. Jy kan verseker onderhandel oor die prys met ‘n handelaar.
Die TransUnion Auto Dealers’ handleiding (voorheen bekend as die Mead & McGrouther motorhandelaarshandleiding) word regdeur die industrie gebruik om ‘n “regverdige” prys vir ‘n tweedehandse motor vas te stel is nie- kyk na die kleinhandelprys (“retail price”) vir die model en jaar wat jy in gedagte het. Sekere versekeraars sal weier om jou te dek vir meer as die kleinhandelprys in die TransUnion handleiding.
Wat staan jou te doen as jy wel ‘n probleemkar gekoop het:
Die Verbruikersbeskermingswet gee jou as verbruiker die reg op goedere wat teen ‘n regverdige billike en juiste prys verkoop word. Indien die prys onbillik, onregverdig en onjuis is, mag die hele transkasie ongeldig wees en kan jy by die Nasionale Verbruikerskommissie ‘n klag indien wat daartoe kan lei dat die verkoper met 10% van sy omset beboet word.
Alhoewel die Wet nie ‘n berekening voorskryf vir die bepaling van ‘n redelike prys nie, sou ‘n substansiële afwyking van die kleinhandelprys in die TransUnion handleiding sonder kommersiële regverdigbaarheid, ‘n duidelik indikasie gee dat die prys onregverdig is.
As jy die voertuig gekoop het in respons op direkte bemarking (waar die handelaar jou eerste genader het), kan jy die voertuig binne 5 besigheidsdae na aflewering terugbesorg. Die handelaar moet dan binne 15 besigheidsdae vir jou terugbetaal.
As jy binne ses maande agterkom die voertuig is defektief (nie net ‘n kosmetiese defek nie) of dis gevaarlik of funksioneer nie soos vereis nie, kan jy dit terugneem na die handelaar of finansier tesame met ‘n brief waarin die probleem uiteengesit word, en ingevolge artikel 56(2) moet die handelaar of finansier jou terugbetaal.
As die voertuig defektief is en die verkoper laat dit op sy onkoste herstel nadat jy hom daarop attent maak, en die voertuig tel weer ’n probleem op binne 3 maande van die hersteldatum, kan jy die voertuig terugbesorg aan die handelaar of finansier en ingevolge artikel 56(3) jou geld terugeis.
Die Verbruikersbeskermingswet verbied handelaars om verbruikers te mislei of te bedrieg. Artikel 4(5) verhoed byvoorbeeld enige optrede deur ‘n handelaar wat gewetenloos, misleidend of bedrieglik is, of redelikerwys sou neig om verbruikers te mislei of bedrieg of om enige stellings te maak waar die handelaar nie redelike gronde het dat hy glo dit wel waar is nie. Nietenstaande beveel ons aan dat jy aanneem dat die handelaar jou nie in kennis sal stel van enige defekte of risikos met die voertuig, parte wat binnekort vervang moet word of aangaande probleme met die voertuig nie- doen jou eie huiswerk. Indien ‘n handelaar jou mislei, gee die Wet jou die reg om die transaksie te kanselleer.
Indien jy ‘n wesenlike defek ontdek nadat die 6 maande waarborgperiode uitgeloop het, kan jy jou herstelkoste van die handelaar of finansier eis ingevolge artikel 61 van die CPA.