Reuse-stryd wink voor SA tribunaal oor ‘onregverdige stroming-fooie waarvoor verbruikers opdok’

‘n Reuse-stryd wink voor die nasionale verbruikerstribunaal tusen die selfoon-netwerk Cell C en die 42-jarige Kaapse vryskut-skrywer Julie Williams oor wat sy beskryf as onredelike en onbillike internasionale stromingfooie van R11265,32 wat aan haar opgedwing is deur die selfoon-netwerk vir net enkele ure se verbruik in Frankryk in Mei 2022.

 

Dis  ondanks die feit dat Cell C ingestem het tot ‘n maandelikse rekening-plafon of -perk van R3785 vir haar buitelandse stroming voor haar vertrek.

 

Williams sê sy het ‘n baie lang gesprek gevoer met  ‘n operateur van die nasionale inbel-sentrum van Cell C voor haar vertrek na Frankryk in Mei 2022. Sy het versoek dat haar maandelikse rekening-limiet opgestoot moet word met R2000 tot R3785 vir internasionale stromingskostes. Die operateur het ingestem en het die bedrag van R3785 met haar bevestig.

 

Sy het die stroming vir slegs ‘n paar uur op 5 Mei 2022 geaktiveer om google kaart (Engels: google maps) te aktiveer. Maar daarna, op dieselfde dag, het sy ‘n Franse sim-kaart gekoop wat sy vir die res van haar verblyf in Frankryk gebruik het.

 

Op 5 Junie 2022 het sy ‘n faktuur van Cell C ontvang ter bedrae van R11265.32 vir internasionale stromingsfooie van 5 Mei 2022 tot 6 Mei 2022, ‘n bedrag wat haar maandelikse limiet met R7480.32 oorskry het.

 

Williams het beswaar gemaak teen die faktuur, maar Cell C het haar ingelig dat sy “nie ‘n rekening-limiet kon geplaas het op internasionale stromingsfooie nie”.

 

Toe haar prokureur, Trudie Broekmann Prokureurs, ‘n Suid-Afrikaanse kundige in die verbruikersreg, terugbetaling van Cell C geëis het, het die selfoonnetwerk die eis verwerp.

 

Julia Haywood, die Cell C-prokureur, het in haar antwoord op die eis gesê die grondslag van die verwerping van die eis was ‘n klousule in Cell C se terme en voorwaardes wat stipuleer dat perke en maandelikse verbruik-limiete van toepassings is op internasionale stroming.

 

Daar is egter oponthoude wanneer limiete ingestel word weens vertragings in maandelike rekeningstate wat van buitelandse netwerke ontvang word.

 

Cell C kan ook nie die akkuraatheid van enige limiete wat ingestel word, waarborg nie, of dat sulke limiete korrek en op die regte tydstip in werking sal tree nie, weens vertragings in die versending van rekeninge vanaf buitelandse netwerke.

 

Williams sê sy het in haar gesprek met die Cell C-operateur daarop aangedring dat die limiet gestel word op R2000 vir stromingsfooie (‘n limiet van R3785 vir oproepe en data en stromingsfooie) en nadat die operateur dit met die bestuurder nagegaan het, het hierdie operateur namens Cell C ingestem hiertoe, wat die indruk by haar gewek het dat die stroming-limiet inderdaad R2000 was.

 

“Ek sou nooit kon dink dat die kousule (waarna die Cell C-prokureur verwys) sou beteken dat ‘n limiet van R2000 verhoog sou word tot R11265,32, wat meer as vyf keer die bedrag is wat ek verwag het nie,” het Williams gesê.

 

Broekmann het dit duidelik gestel dat Cell C se optrede strydig is met die Wet op Verbruikersbeskerming.

 

Artikel 4(5)(b) verbied die diensverskaffer om enige misleidende of bedrieglike verklarings te maak wat moontlik ‘n verbruiker kan mislei in enige gesprekke in die gewone verloop van sake.

 

Broekmann het gesê artikels 29 en 41 verbied ‘n diensverskaffer om verbruikers te mislei wat betref die voordele van ‘n produk asook aangaande materiële feite ten opsigte van ‘n transaksie.

 

“Me. Williams is mislei deur Cell C deurdat die operateur die indruk geskep het dat sy haar maandelikse limiet vir internasionale stroming tot presies R3785 kon beperk.

 

“Sy is voorts mislei deur ‘n sms van Cell C wat die indruk geskep het dat sy nie verdere koste bo R3785 opgelê sal word nie, tensy sy self die maandelikse limiet opskuif nie,” sê Broekmann.

 

Broekmann het dit voorts benadruk dat die Wet op Verbruikersbeskerming dit duidelik uitstip dat verskaffers nie ‘n ooreenkoms moet sluit en dienste moet lewer teen ‘n onbillike prys of op kontraksterme wat onbillik, onredelik of onregverdig is nie.

 

Die deel van die stromingsfooie bo die R2000-limiet wat deur Cell C gehef word van Williams, is onredelik, onbillik en ‘n onregverdige bedrag, het Broekmann gesê.

 

Die saak voor die nasionale verbruikerstribunaal is belangrik vir so baie SA verbruikers weens herhaaldelike uitbuiting deur selfoon-netwerke wat internasionale stroming betref, en sonder dat daar enige terugbetalings geskied, het Broekmann benadruk.

 

Die saak kom voor die tribunaal op Vrydag 27 September vanjaar om 10 vm.

 

 

 

 

Share to...