Eis van R3 miljoen teen verskaffer van Jetpatcher wat slaggate opvul ná Drakenstein-kontrak in slag bly

‘n Maatskappy wat ‘n koue emulsie inspuit om slaggate in Suid-Afrika te herstel deur die gebruik van ‘n masjien bekend as die Jetpatcher, is vir R3 miljoen gedagvaar deur ‘n siviele maatskappy wat ‘n kontrak met die Drakenstein-munisipaliteit verloor het omdat die Jetpatcher se emulsie nie behoorlik verseël het nie en nie waterdig was nie.

Die siviele maatskappy, Delcon Solar (Pty) Litd, het ‘n opgeknapte Jetpatcher, wat emulsie met ‘n sproei inspuit, van Inyathi Environmental Technologies (Edms) Bpk gekoop vir R2.074 miljoen om mikro-slote in paaie en sypaadjies weer te verseël nadat vesel-kabels geïnstalleer is, en nadat die Inyathi-verkoopsman die versekering gegee het dat die Jetpatcher perfek was vir daardie aanwending.

Maar tydens die demonstrasie voor ingenieurs van die munisipaliteit het die koue bitumen emulsie mengsel wat deur die Jetpatcher gesproei is, nie binne 48 uur verhard nie. Trouens, drie weke nadat die verseëling gepoog is, was dit steeds moontlik om die bedekking af te skraap, bloot deur ‘n vingernael te gebruik. Water het ook dwarsdeur die emulsie gesypel sodra dit op die koue mengsel bedekking gespuit is.

Die Jetpatcher is veronderstel om oppervlakte van teerpaaie, mikro-slote en slaggate in stand te hou deur sproei-inspuiting van ‘n bitumen-emulsie-en-gruis-mengsel in ‘n gat of sloot, wat volgens Inyathi binne 48 uur verhard.

Johan Muller, ‘n onafhanklike ingenieurskonsultant wat as deskundige ooggetuie in die saak tussen Inyathi en Delcon optree, het verduidelik dat die kombinasie van bitumen emulsie en enkelgrootte seëlklip nie verhard en verdigting toon soos ‘n warm-mengsel van asfalt nie. Hy het in ‘n verslag vir doeleindes van die saak verklaar dat dit baie uitdagend sal wees om ‘n enkel-grootte gruis wat in die Jetpatcher-tegnologie aangewend word, suksesvol aan te wend in die smal mikro-slote wat gebruik word waar vesel-kabels gelê word. Dis dramaties anders as die warm-mengsel asfalt wat deur die Drakenstein-munisipaliteit gespesifiseer word.

Hy het bygevoeg dat die Jetpatcher nie ‘n aanvaarbare produk op ‘n volgehoue basis sal verskaf wanneer die mikro-sloot ‘n helling het of wanneer dit in ‘n dikker laag, of dit op ‘n reënerige dag, aangewend word nie.

“Die Jetpatcher-konsep was in hierdie situasie nie geskik vir sy voorgenome doel nie,” het Muller in sy verslag geskryf.

Delcon Solar het gesê hy het die versekering van verteenwoordigers van Inyathi Environmental Technology ontvang voor hy die Jetpatcher gekoop het, dat die masjien, sowel as die formule van KRS 65 bitumen emulsie met gruis gemeng wat die Jetpatcher spuit, geskik was vir Delcon se aanwending in die herstel van miko-slote.

Kort nadat die Jetpatcher gekoop is, het die Inyathi Environmental Technologies se personeellede ‘n demonstrasie gedoen in die teenwoordigheid van ingenieurs van die Drakenstein-munisipaliteit. Die munisipaliteit het aangedring op ‘n demonstrasie voordat Delcon Solar toegelaat sou word om die Jetpatcher te gebruik vir die opvulling van mikro-slote nadat vesel geïnstalleer is. Die kontrak met Drakenstein sou Delcon Solar R898 500,00 in die sak gebring het as die munisiptaliteit die ja-woord gegee het.

Maar die Jetpatcher het nie die toets geslaag nie omdat die emulsie nie hard geword het binne 48 uur nie. Weke nadat die emulsie toegedien is, was die padoppervlak steeds sag. Gevolglik is die kontrak nie deur die Drakenstein-munisipaliteit aan Delcon Solar toegeken nie.

Delcon Solar het toe aangebied om die Jetpatcher terug te besorg aan Inyathi Environmental Technologies en het ‘n terugbetaling van R2.074 miljoen en die verlies van wins van R898 500.00 geëis.

Inyathi Environmental Technologies het geweier om die Jetpatcher terug te neem, Delcon Solar terug te betaal en het ook versuim om ‘n alternatiewe emulsie-formule te voorsien om die probleem op te los, ten spyte daarvan dat Delcon hul uitgenooi het om dit te doen. Die voorverhoor van die saak sal op 11 Maart vanjaar in die Kaapse hooggeregshof plaasvind.

Trudie Broekmann, ‘n Suid-Afrikaanse kundige in die verbruikersreg wat Delcon Solar ook verteenwoordig, het gesê artikel 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming maak verskaffers aanspreeklik vir skadevergoeding wanneer die produk skade veroorsaak deurdat dit misluk het. Die verskaffer is verplig om skadevergoeding te betaal selfs as was hy nie nalatig nie en selfs al was dit onmoontlik om te bewys dat die verskaffer onregmatig opgetree het.

Die verspreider van die Jetpatcher is aanspreeklik vir die betaling aan die siviele firma van enige skade, insluitende die verlies aan waarde van die Jetpatcher toe dit duidelik geraak het dat dit nie werk nie. Broekmann sê voorts Inyati is aanspreeklik gebaseer op ‘n skending van die waarborg wat aan Delcon voorsien is, sowel as ‘n wanvoorstelling aangaande die vermoë van die Jetpatcher om die opvulling van mikro-slote suksesvol te behartig.

 

Share to...