‘n Vuurwarm regstryd wink tussen ‘n weduwee, Erica Schroeder, haar werklose kinders en die ontwikkelaar van ‘n aftreeoord wat Erica en haar kinders se eis teen die boedel van haar man, Carl, verwerp nadat hy ‘n lewensreg in ‘n aftreeoord gekoop, ingetrek en vier maande later te sterwe gekom het.
Carl Schroeder het in 2023 ‘n lewensreg in die Ryn Village-aftreeoord gekoop.
Vier maande nadat hy ingetrek het, is Carl Schroeder oorlede. Die hoofbegunstigde van sy boedel is Erica, sy voormalige eggenote. Haar volwasse kinders, wat afhanklikes is, sal weer van haar erf.
Die seun is al ses jaar lank werkloos en die dogter het ‘n psigiatriese toestand wat dit vir haar bykans onmoontlik maak om ‘n betrekking te bekom. Die volwasse kinders van Carl en Erica Schroeder is die erfgename van die restant van sy boedel.
Erica is ten tyde van die COVID 19-pandemie afgedank deur die maatskappy vir wie sy 21 jaar lank gewerk het. Carl Schroeder het elke maand ‘n aansienlike deel van sy salaris aan Erica betaal om in haar en haar kinders se behoeftes te voorsien voor hy op 63-jarige ouderdom onverwags oorlede is.
Carl het op 63 sy volle pensioen laat uitbetaal en uit die opbrengs die lewensreg gekoop- indien dit nie gedoen is nie, sou Erica die pensionbetalings ontvang het nadat Carl oorlede is. As haar eks-man die geld gebruik het om ‘n huis pleks van ‘n lewensreg te koop, sou Erica se twee kinders die huis geërf het.
Volgens Trudie Broekmann, ‘n vooraanstaande prokureur wat in die verbruikersreg spesialiseer, is Erica gegrief omdat Ryn Village (Edms) Bpk weier om enige deel van die R1.625 miljoen wat Carl vir die lewensreg betaal het, terug te betaal.
Sy het Broekmann aangestel om haar eis teen Ryn Village te hanteer vir terugbetaling vir die meeste van die geld. Volgens Broekmann werk baie lewensregte so dat die afgetredene se boedel die koopsom vir die lewensreg terugkry by die ontwikkelaar nadat die afgetredene te sterwe kom, en dan kry die boedel dikwels ook ‘n persentasie van die prysverhoging wanneer die eenheid weer verkoop word.
“Die ontwikkelaar van Ryn Village lag al die pad bank toe, want daar is geen reg tot terugbetaling in die opsie wat Carl gekies het nie, en die ontwikkelaar kan die lewensreg dus in dieselfde jaar herverkoop vir ‘n verdere R1.625 miljoen,” sê Broekmann.
Die prokureur wat vir Ryn Village optree, sê kragtens die koopkontrak het die Schroeders geen eis teen Ryn Village vir terugbetaling vir enige deel van die koopprys nie.
Volgens die prokureur sal die lewensreg outomaties verval wanneer die persoon wat die lewensreg-eieondom bewoon het, te sterwe kom.
“Weens die bewoner se afsterwe, sal sy boedel geen reg hê nie en gevolglik geen eis kan hê teen Ryn Village vir terugbetaling van die koopprys of ‘n deel daarvan nie,” lui die koopkontrak.
“Nie so haastig nie,” sê Broekmann.
‘n Lewensreg verleen aan die koper die reg om in ‘n eenheid in die aftreeoord te woon totdat hul te sterwe kom, maar hul word nie die eienaar van die eenheid nie.
Lewensregte word volgens Broekmann gereguleer deur die Wet op Behuisings-ontwikkelingsskemas vir Afgetredenes, Wet 65 van 1988, of HDSA. “Die kontrak strook nie met die bepalings van die wet nie en is dus waarskynlik ongeldig. In daardie geval, behoort die geld terugbetaal te word aan die boedel,” sê Broekmann.
“Die transaksie kom ook neer op ‘n verbreking van die Wet op Verbruikersbeskerming wat vereis dat die prys wat jy betaal, billik en regverdig moet wees.
“Die betaling van R1.625 miljoen vir vier en ‘n halwe maande se verblyf is nie ‘n billike prys nie – dis gelykstaande aan huur van R360000 per maand vir ‘n twee-slaapkamer-huis in Benoni, as jy ook die heffings wat Carl vooruit moes betaal inreken” sê Broekmann.
“Die eiendomsagent, Elize Coulter van Pam Golding Benoni, wat die lewensreg aan Schroeder bemark het, en die bemarkingsmateriaal op Ryn Village se webwerf, beskryf die lewensreg as “bekostigbaar” en praat van “spaargeld wat in jou bankrekening geplaas kan word” wanneer jy ‘n lewensreg en nie ‘n eiendom nie, koop.
“Luidens die bemarkingsmateriaal geniet jy ook ‘al die voordele van eienaarskap’.
“In Carl Schroeder se geval kan niks verder van die waarheid wees nie. Ek ondersteun gevolglik die Schroeders in hul eis van terugbetaling teen die ontwikkelaar en ons hou ook die eiendomsagent aanspreeklik,” bevestig Broekmann.
“Die eiendomsagent, ‘n werknemer van Pam Golding Benoni, is aanspreeklik teenoor die Schroeders weens ‘n bedrieglike wanvoorstelling in haar bemarking,” sê Broekmann.
Volgens Broekmann vermoed sy dat baie afgetrede persone in Suid-Afrika in dieselfde bootjie is as die Schroeders. Hulle betaal ‘n enorme bedrag vir ‘n lewensreg, maar as hulle vroeg sterf, sal hul erfgename die gelag betaal.
“Sover ons kan vasstel, is ons die eerste SA prokureursfirma wat vasgestel het dat ons hierdie onregmatige praktyk in die hof kan beveg,” het Broekmann bygevoeg.
Persverklaring saamgestel deur Fanie Heyns namens Trudie Broekmann-prokureurs. Vir nader inliging, kontak Trudie Broekmann op 082-3229124 of kontak die kantoor op 021-4220269.